logo small

Torah: Deut 32:1 – Deut 34:12
Haftarah: 2 Sam 22:1 – 51; Jos 1:1-18
B’rit Hadashah: Ope 14-15; Efe 5:26; Tit 3:5; Heb 10:22; 1 Kor 10:4; 1 Pet. 2:6; Joh 20:26 - 21:25 Joh 6:26-35; Han 1:1-14

IMG 20210910 WA0000



In die laaste parashah waarmee ons gaan eindig die jaar, sien ons Moses se afskeid van die kinders van Israel. Ons gaan so kortliks kyk na hierdie afskeidstoespraak met seëninge, maar ek wil saam met jou deur 'n interessante soort lens daarna kyk. Want sien daar is sekere ooreenkomste in Ps 90 en dan ook in die middel van die Torah. Daar is sekere belangrike vertellings in die vyf boeke van Moses wat skynbaar oorvertel word in die Psalms, maar uit 'n effens ander perspektief as wat dit oorspronklik in die Torah opgeskryf is. Dis amper asof die Torah ons vertel wat gebeur het en Moses se Psalms ons vertel hoe om dit wat gebeur het te beleef. Moses word byvoorbeeld vertel dat hy berg Nebo moet opklim; dat die kinders van Israel in die beloofde land kan ingaan, maar nie hy nie. Ons weet dit is wat gebeur het, maar kan jy dink hoe dit vir Moses moes gevoel het?

Ek meen hoe was dit om Moses te wees as die dienaar van Abba Vader? En hoe het dit vir  Moses gevoel om aan die einde van sy lewe die enigste een te wees wat nie die beloofde land kon ingaan nie. Hy was die een wat hulle uit slawerny gelei het en vir hulle vertel het hoe die kinders van Israel nie moet bang wees nie, dat Abba Vader vir hulle sal veg in die beloofde land, ‘n land van melk en heuning. Moses het ook immers tog die vrugte gesien wat die verspieders gebring het uit die beloofde land. Dinge wat Moses moontlik begeer het of na uitgesien het is hom geweier. Ek meen hoe het dit gevoel om berg Nebo op te klim wetende dat jy nie in die beloofde land sou gaan nie? Hy kan die beloofde land sien, maar hy kan hom nie ingaan nie. Dalk is daar van die antwoorde in Moses se Psalm, Psalm 90, want sien as jy Psalm 90 bestudeer vind jy sekere kommentaar oor die afskeidstoespraak van Moses aan die einde van die Torah, en kommentaar oor ander belangrike dinge in die 5 boeke wat Moses geesvervuld geskryf het in die Torah.

Om te verduidelik, in Psalm 90:1-2 staan: “'n GEBED van Moses, die man van God. Here, U was vir ons 'n toevlug van geslag tot geslag. Voordat die berge gebore was en U die aarde en die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God. U laat die mens terugkeer tot stof en sê: Keer terug, o mensekinders!” Nou in die oorspronlike Woord staan: “'n gebed van Moses, die man van God. YHVH, U is ons woning, U is waar ons woon. Selfs voordat die fondasies van berge, op die aarde gevorm is van voor alle tyd was U God.” Dink daaroor hierdie 2 verse neem ons na die begin van die Torah toe en ook na die einde van die Torah toe.

Psalm 90 praat van Moses as die man van God. Ja daar staan in Ps 90:1 “'n GEBED van Moses, die man van God.” Wel, Moses word net een keer in die hele vyf boeke van die Torah genoem “die man van God” en dit is aan die einde van die Torah waar dit sê in Deut 33:1 “EN dit is die seën waarmee Moses, die man van God, die kinders van Israel geseën het voor sy dood.” M.a.w die Psalm van Moses verwys na die 5 boeke, die Torah en daar is sekere paralelle. Ps 90:2 sê “Voordat die berge gebore was en U die aarde en die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God.” As ons kyk na paralelle dan sien ons terug in die week se gedeelte in Deut 33:2 “En hy het gesê: YHVH het gekom van Sinai en vir hulle opgegaan van Seïr af; Hy het in ligglans verskyn van die gebergte Paran en gekom van heilige tienduisende af; aan sy regterhand was vlammende vuur vir hulle.” Daar word gepraat van die berge, net soos Psalm 90 ook praat van die berge. Maar dit is veel meer as net die berge want Psalm 90:2 praat van Abba Vader en sê “van ewigheid tot ewigheid is U God.” Die Hebreeuse prentjie van “ewigheid tot ewigheid is U God” skets vir ons ‘n prentjie van Abba Vader wat van oneindige tye af daar is.

Dit is presies hoe die Torah begin het met Abba Vader wat nog altyd, van ewigheid af, daar was. Regdeur die Torah sien van geslag tot geslag; U'mei'olam ad olam” - van ewigheid af was Abba Vader daar. M.a.w alles in Psalm 90 is eintlik gebaseer op die Torah, die Bereishit – die skeppingsverhaal, en ook die einde van die Torah. Maar let wel Psalm 90 verwys nie net na die begin en die einde van die Torah nie, dit verwys ook na die middel van die Torah. Ja na 'n belangrike episode wat plaasgevind het net nadat die kinders van Israel Egipte verlaat het. Hier is die bewyse daarvan. In Psalm 90 word daar gepraat van die gebed van Moses maar in Deut 33 is dit 'n seën wat Moses oor die kinders van Israel uitgespreek het. Maar as jy Deut 33 mooi lees sien jy die seën is ook ‘n soort gebed. Maar dink daaroor waar in die Torah was daar ook 'n gebed wat Moses gebid het? Kan jy onthou?

Let wel, as jy na Psalm 90 kyk, is dit 'n baie pynlike en moeilike en soort skrikwekkende gebed want hoor wat staan in Ps 90:7 “Want ons vergaan deur u toorn, en deur u grimmigheid word ons verskrik.” Ek meen dit is regtig baie gewigtige dinge om oor Abba Vader te sê want hoor verder in vers 8 “U stel ons ongeregtighede voor U, ons verborge sondes in die lig van u aangesig. Dit blyk ook nie 'n baie mooi ding te wees om oor Abba Vader te sê nie. Die tema of storielyn van Psalm 90 is in werklikheid ‘n skrikwekkende tema. En die vraag is verwys hierdie nie dalk alles terug na 'n ander gebed van Moses êrens anders in die Torah nie? Ja dit doen - dit verwys terug na ‘n vroeëre gebed van Moses in die Torah, toe Moses tot Abba Vader gebid het by die goue kalf insident. Dit was toe Abba Vader regtig baie kwaad was vir die kinders van Israel en Moses namens die kinders van Israel gebid of intersessie gedoen het om hulle te probeer red. Die punt is dat Moses se Psalm 'n verhaal vertel,  'n verhaal wat met Moses se gebed by die goue kalf begin en eindig met Moses se seën oor die kinders van Israel in Deut 33. Dit verbind soort van die twee episodes.

Kom ons kyk gou na die goue kalf-episode. Die bewys dat Psalm 90 terugbeweeg na die episode toe, kom uit ooreenkomste in die taalgebruik tussen Psalm 90 en die goue kalfgebed. Want as jy teruggaan na die en jy vra wat was die kern van Moses se gebed, was dit toe Moses vir Abba Vader gevra het om van plan te verander en om nie die kinders van Israel te verwyder nie. In Eks 32:11 staan “Maar Moses het YHVH sy God om genade gesmeek en gesê: Waarom, o Here, sou U toorn ontvlam teen U volk wat U met grote krag en met 'n sterke hand uit Egipteland uitgelei het?” Lees jy hierdie gedeelte aandagtig en jy kyk na die oorspronklike Woord sien jy twee belangrike werkwoorde nl: Die eerste werkwoord is “Shuv” – Abba Vader wat terugkeur van Sy woede. Die tweede werkwoord: Abba Vader verander van mening oor die kwaad of boosheid wat Hy oor die kinders van Israel uitgespreek het. As jy Psalm 90, dit is presies dieselfde kombinasie van werkwoorde. Daar staan in Ps 90: 13 “Keer terug, Here! Tot hoe lank? En ontferm U oor U knegte.” Klink nogal eenders, dink jy nie ook so nie? Dit wil regtig voorkom asof ons in Moses se Psalm 'n verduideliking kry van Moses se gebed by die goue kalf. So ter opsomming:, dit wil voorkom asof Moses se Psalm ons op een of ander manier terugneem na twee verskillende plekke toe nl die einde van die Torah, aan die een kant, en na die episode van die goue kalf aan die ander kant. Die punt is Moses se Psalm verbind hierdie twee episodes.

Kom ons gaan kyk gou terug na oomblikke net voordat Moses namens die mense in die goue kalf-episode bid, wat het gebeur? Ons weet die kinders van Israel het die goue kalf aanbid, Moses was bo-op die berg en Abba Vader sê vir hom hy moet af gaan, alles het verander. Hoor gou in Eks 32:7-19 staan “Toe sê die Here vir Moses: Gaan heen, klim af, want jou volk wat jy uit Egipteland laat optrek het, het verderflik gehandel. En hulle het gou van die weg afgewyk wat Ek hulle beveel het. Hulle het vir hulle 'n gegote kalf gemaak en daarvoor neergebuig en daaraan geoffer en gesê: Dit is jou gode, o Israel, wat jou uit Egipteland laat optrek het. Verder het die Here vir Moses gesê: Ek het hierdie volk gesien, en kyk, dit is 'n hardnekkige volk. Laat My dan nou begaan, dat my toorn teen hulle ontvlam en Ek hulle verteer. Dan sal Ek jou tot 'n groot nasie maak.” M.a.w Abba Vader stel voor om die kinders van Israel te vernietig en weer alles met net Moses te begin en om slegs Moses en sy onmiddellike gesin in die beloofde land in te bring. So as ons aan Moses dink, dink ons aan wat hy met sy gebed bereik het, die redding van die kinders van Israel, dat Abba Vader nie almal vernietig het nie. Maar Moses het ook iets anders bereik.

Jy sien, hier is amper 'n klein speletjie aan die gang in die interaksie tussen Abba Vader en Moses op die top van die berg Sinai. Want wie se mense is die kinders van Israel? Onthou as jy nie vir Abba Vader luister nie; nie saam met Hom in verbond wandel nie, stap jy weg van Abba Vader af. Dan is dit die bewys dat jy nie syne wil wees nie. So hoor gou-gou, Abba Vader sê vir Moses op berg Sinai gaan af na jou volk toe Moses want jou volk het hulself baie skade berokken. Abba Vader praat van Moses se volk nie van Sy volk nie. M.a.w hulle is nie My mense nie Moses … hulle is jou mense. En dan, dit wat Moses telkens in sy gebed sal probeer doen, is om Abba Vader te oortuig dat dit nie waar is nie. So ontevrede soos Abba Vader is, so kwaad soos wat Abba Vader is … op die ou end is dit eintlik nie Moses se volk nie maar Abba Vader se kinders. In Eks 32:11-14 staan “Maar Moses het die Here sy God om genade gesmeek en gesê: Waarom, o Here, sou U toorn ontvlam teen U volk wat U met grote krag en met 'n sterke hand uit Egipteland uitgelei het? Waarom sou die Egiptenaars spreek en sê: In kwaadwilligheid het Hy hulle uitgelei om hulle in die berge om te bring en hulle van die aardbodem af te vernietig? Wend U af van die gloed van u toorn, en laat dit U berou oor die onheil van u volk. Gedenk aan Abraham, Isak en Israel, u knegte, vir wie U by Uself gesweer en aan wie U gesê het: Ek sal julle nageslag vermenigvuldig soos die sterre van die hemel, en hierdie hele land waarvan Ek gespreek het, sal Ek aan julle nageslag gee, dat hulle dit vir ewig kan beërwe. Toe het dit die Here berou oor die onheil wat Hy gesê het dat Hy sy volk sou aandoen.”

M.a.w Moses het gepleit by Abba Vader om te “shuv” terug te draai van Sy troon en Moses sê Abba Vader U kan dit nie aan U volk doen nie. Moses pleit by Abba Vader “Vader dit is nie net my mense nie, dit is ook U mense. Dis nie al nie … Moses sê ook “Abba Vader U is hulle God.” Om oor te ponder, wat het Moses se gebed of intersessie te doen met die seëning wat Moses oor die kinders van Israel spreek? Dit laat my dink aan Yeshua se intersessie op die kruis toe Yeshua vir Abba Vader op die kruis vra in Luk 23:34 “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Net so Tabernakelskind van Abba, vir wie kan ek en jy intree vandag?

Kom ons bid saam:
Abba Vader, Koning van my hart, ek loof en prys U. Vader dankie dankie vir Yeshua wat vir ons intree. Vader leer my U geheimenisse ... meer en meer van U. Ek bid alles in Yeshua Ha-Mashiach se Naam, die Seun van YHVH. Amen. Shalom.

Audio Boodskap

 
X

Right Click

No right click